moi

moi
seulement moi

Sunday, August 28, 2011

pyl en boog




‘n swart pyl skiet die ontnugtering
drie maal deur brose vel
en sy bly net staan
met rug gekeer
in afwagting op ‘n lewensvonnis
wat sy nie in die oë kan kyk nie

en mý hand bind die woord aan daad
(‘n swart perd runnik in my agtergrond)

here jy is wreed
ek weet ek het jou gesmeek
maar nou is jy net wreed
hoe kán jy haar ‘n lewe gee
wat net so skielik weer verdwyn?

Sunday, August 21, 2011

begin


het dit begin
toe my oë
van uitputting
en ongeduld in ander rigtings begin staar het
het dit begin
toe vreemde passie binne my kom klim
het dit begin
toe interessante nuwe wêrelde
hulself aan my vryheid
ontbloot het
het dit begin
toe te veel ander mense
die vertrek begin vul het
het dit begin
toe frustrasie al die betowering gesmoor het
het dit begin
toe musiek anders begin klink het
het dit begin
toe die gode hulle wil
op ‘n lewe geblits het
het dit begin
toe ek besef
daar is ‘n onbreekbare ander band
het dit begin
toe ons lag vergaan het
het dit begin
toe ons die dag ophou dans het
het dit begin
toe ‘n lewe kanselleer
het dit begin
toe vriendskap moes halt

Wanneer het ons einde
begin?

(my potlood se punt het gebreek) 


spel

ek weet nie
hoe
om ons lewend te hou
sonder
om ons te vernietig  nie

ek weet nie
hoe
om ons te vernietig
sonder
om ons lewend te hou nie

Monday, August 15, 2011

fokken lewe


die lewe het jou bene gaan afslaan
saam met die volmaan
kon net sowel ‘n geweer in jou hand stop
en sê ‘figure dit uit’
terwyl die res klaar weet hoe
Sommige mure is moer hard...
Hoe hardloop mens steeds reguit
sonder om oor elke klip te val
en sy sê sy probeer uit ‘n gat klim
maar elke hand vol reddingsgrond
krummel haar val terug in die donker in
En ja, hier lê die eindelose oseaan
voor my uitgestrek soos ‘n uitlokkende massa
wat sê ek sal vashou: as jy nie meer kan swem nie
hoef jy net te dryf
maar ai here sy wil nie eers meer dink nie
hoe oortuig ek haar van haar spesiale plekkie
op hierdie genadelose aarde
see en al
Hoe gaan haal ‘n ma hopelose magteloosheid
agter uit ‘n kind se oë?
en dan kla ander oor onbenullighede
met die brood onder die arm.
Fok.

Monday, August 8, 2011

Moonstone



‘n knaende verlange

vleg deur ‘n lewe van
groceries
en huis opruim,
kinders tug en liefhê,
katte voer
en hond genees,
skryf
werk en
kreatief Leer bind
aan edelsteen
wat eenheid simboliseer
 -‘n versteende warmte -
‘n tao
en veer
houvas die evil eye
en dragonfly
raak delikaat die
hunkering van harte

Jean

Oom Louis vertel van die klinknaelbroek wat in die jaar toet Ouma se hare laat rys en grys het toe dit in haar huis kom groet.

Die opskudding wat deur die broek veroorsaak is weergalm in my gedagtes beelde van modebewuste fotograwe wat tydens die afbreek van die Berlin Wall in 1989 gefokus het op Levi se Jeans aan die heupe van die duitse jeug. Die klank klink naelagtig, ‘n simbool van Jeug en Rock kultuur. Die broek klink sommer reaksionêr maar tog so lekker gemaklik. Wonder of Levi Strauss in 1853 ooit besef het wat sy legacy aan die konsep van geskiedenis sou doen: of hy nou asemhaling toelaat, skin, knyp of hang onder die heupe? 
(Die broek bedoel ek.)

Terug na Ouma dan kom ons by die woord toet. Waar kom so elementêre woord vandaan??? Van iemand wat ‘n gatvol uitdrukking op sy gesig kry en so sy siel se ouderdom verklap? Dus glad nie iemand wat die vryheid van Jean sal verstaan nie. Bloot ‘n  mooier woord vir pissed-off. Ag tog. Die samelewing wat so hard probeer wegkruip van die ware feite, dit bly so siek en dom. Hoekom almal nie maar net kan wys wie hul werklik is of wil wees nie. Die toet aflaai.

Nee, kruip eerder beskermend weg agter die beeld wat society voorhou. Bly in die comfort zone en as die zone sê trek die broek tot onder jou boude dan word dit eenvoudig gedoen sonder vraagteken. In der waarheid bestaan society nie eers nie. Dis ‘n blote konsep van niks of iets (afhangend van jou persepsie / comfort zone), geskep deur mense soos ons wat nie weet hoe om dit te definieer nie...

Ouma het seker vyftig jaar gelede gedink haar kind word nou deur die bose beheer! En vandag is Jean aan (of onder) ‘n heup so onafskeidbaar soos brood en botter. Ek hou van die woord klink-nael-broek...klink so klapperig. Onsvattiekakkie.