Ek het jou gaan bêre
op ‘n plek anderkant hier
Ver van die aanraking van herinnering
Terug in die gedagte van vraagteken
wat antwoordloos wonder
Ek het jou gaan bêre
verby die chaos
van frustrasie
Ver agter misverstande
wat vretend verniel
Ek het jou gaan bêre
terug in ‘n lewe van saai
waar verveling tronkstraf forseer
op daaglikse geluk
Ek het jou aanraking gaan uitvee
Die gladde streel van jou vel
gaan vergeet
En gevoelloos
die keuse gemaak
wat ons nie verdien nie
Ek het jou gaan weggooi
uit die wonderwerk van eenheid
Gestamp tot teen die afgrond
wat ons vlymskerp skeur in twee
Ek het my woorde gaan begrawe
van pure uitputting
My hoop vermoor
Ek moes jou bitter ver gaan bêre:
Want ons was besig om voorspelbaar
soos dié woord
Te versmoor