voel asof die wond
in duisend lappies las
om mens te lyk
stukkend
plak tot een geheel
wat orals haak.
die rib verloor die rug
die long word kloustrofobies vas gedruk
tone hang bloot grondwaarts af
en vorm geen konneksie met die bron
‘n laslappie geraamte
wat geen beweging toon,
geen beplande konstruksie wat ‘n taak uitvoer.
hang slegs
aan niks
bymekaar gebondel
Gewond.
maar dié keer
ruil die rolle om
sý wond
sý slaan
sý skel
sý breek
‘n wese terug na ‘n bondel hopeloosheid
die skouers sak
die stem word stil
die oë word glad
asof ‘n laaste asem diep vanuit die long
probeer ontsnap,
bevryding smag
hy kleef verslae aan aarde vas
doelloos vasgevang in verwyt
‘n ego kom los
ontbind
wat ritmies deur die draaibeweging se gravitasie
klosse vorm van ‘n vervloë individu
materie skei weg
en bondel saam
in ‘n nuttelose
geWonde wese.
en sy noem haarself
‘n buddhis
No comments:
Post a Comment