moi

moi
seulement moi

Monday, June 20, 2011

Iemand gee tog net my titel

Het gedink ek doen vandag my Blog effens anders, na paar gebeure wat ‘n nuwe perspektief geïnspireer het.

Dis pynlik stil en ek wens iemand kan optel, nee. Kom ons begin weer.


Gestel ek kan uit myself klim en dit wat my oë my verstand vertel ek wel sien, optel. Die prentjie neem en hom plaas langs die grys realiteit van hier en nou. Laat die ou een agter in die ou dosie, sluit hom toe en vorm hoop in die nuwe vreemde onbekende.
Tel hom op soos ‘n puppet on a string, met die ander hand vir my en sit die ons van hom en my neer. Enige plek. Êrens. Net êrens anders.


Soveel films, boeke, stories, fantasie-vlugte neem hul aanloop uit so veronderstelling: Enter...kom binne en kyk met dieselfde oë maar op ‘n ander manier. En wat moet ek enter wanneer ek uit my liggaam kyk na my lewe? Wat is my lewe? Werklike herinneringe of die fantastiese versinsels wat die brein my laat glo?


Ja, sommige mense sê sy dink te veel, te ver, te agter innie kop. Klink vir my bra mal. I can do with crazy, sê my vriend... soos die vriendin wat haar versameling vere heilig bêre in ‘n laai. Opgaar. Vir wat? Eendag? Om mee te wat? Wat gryp sy eerste wanneer die vlamme haar huis verniel? Fotos...of die vere? Of is elke veer ‘n foto?


Ag ja, terug na die boek wat binne my skree om te skryf. Ons het almal so boek. Myne se woorde het oor jare opgebondel tot ‘n muwwe massa klanke wat soos Medusa se hare skree tot verlossing. Tonge wat krullend uitskiet na die grou realiteit en hoop dat iets die klanke netjies bondel, groepeer in letters wat society kan sien as woorde en ek kan noem: ‘n storie. My verhaal, my geskiedenis, my lewe. Noem dit wat jy wil. Die woorde wat op borrel en uit my skedel skeur, met vlerke ver weg vlieg, verlore raak in die groot heelal en so ‘n vrede vind.


Soms sien ek hoe verward ‘n eensaam bachelor sy week se kruideniers aankoop. Die koddige stap asof sy intellek nie hoort tussen kos en toiletpapier nie. Hande hang langsaam stil aan sy sy en die rye word nie van links na regs benader, of regs na links afhangend van watter deel van jou brein die sterkste dink... Nee, dan hier op dan daar af dan terug sonder om te vind en aan die einde van die oefening het hy ‘n skrale mandjie opgegaar met sewe noodsaaklike items vir die week se oorlewing, waarvan een, slegs een, ‘n luxury is. Hy betaal rustig met ‘n paar sente, stap weg en fokus op die wolke. Ek wonder waarom kyk hy na pornografie.


Dalk laat dit sy herinneringe gaan na ‘n vervloë banale gedagte terwyl die regisseur na twee en ‘n half ure uiteindelik die film se titel opsom met die woorde: the void. Nee, geen einde, in plaas daarvan ‘n eindelose massa niks wat die woordeboek noem materie waarin menslike wesens funksioneer. Wetenskaplikes het allerhande fancy woorde daarvoor soos suurstof en dies meer. The Void, holheid, die niet, volgens HAT.


Terug na my: die banaliteit van menslike behoeftes (skuiling, voedsel, seks) wat alles gereguleer word deur die norme van die samelewing. Dis die plek wat dekades gelede bepaal het dis fine om met die eenheid van cowry shells te betaal, of die hoeveelheid bulle wat jy het bepaal jou rykdom. Wat mettertyd uit gekring het na nuwe terme; hoe die jeans aan haar heupe hang, nuwe betaaleenhede; hoe groter die bul se wiele bepaal hoe groot jou welvaart...ek het gesê wiele. Freud gaan weg!


Ek weet ek moet klaarkry want die menslike brein kan slegs op suffel woorde konsentreer en ek wil baie graag hê dat my lesers die einde moet voel, nie sien nie: voel. Soos ek dit daagliks moet voel.


Hier voor my sit Buddha en mediteer in die skemer: kalm, stil tevrede. Terwyl die Zombie bloed op my dagboek grinnik, runnik wat’s die verskil? Daar onder groei my groentetjies versigtig in die winterson en my sweet peas sal binnekort blom. Maar ek wil oor begin, terug gaan , nee. Oor begin soos wanneer ‘n groter hand my toue optel, jou toue optel en ons toue ongekoek saam neersit op daai nuwe plek. Ek wil ‘n nuwe geboorte ontmoet. Een waar ek nie kloustrofobies benoud moes snak na ‘n begin en jare daarna moes spartel om die self te vind. Ek wil gehoor gee aan die natuur se roep, terugkeer na die oerdrang van ‘n passie (onthou seks en passie is ver verwyderd) wat roep diep uit my wese. Fok die samelewing, maak vrede met my, dis ek. Ek mag net soos jy.


Dis soos die harde eerlikheid van ‘n karoovlakte waar bittereinde-gebede ongevraagd en onbeantwoord geen verligting bring. My dors laat my sterf in die verskriklike pyn waarmee die liefde almal slaan, onskuld wegsluk en ons aan die lewe laat verstik. Haal asem. Begin weer, haal weer asem. Die passie vind slegs uiting in ‘n woord. Here, ‘n samelewing pleeg ‘n moord!


Maar ek bly ek en jy bly jy en ons bly vir ewig ons. Waar niks eintlik verander het nie vind my verhaal geen oorsprong, lyn of syn. Slegs woorde gegroepeer op A4, soos hulle sê ( wie is hulle?). Swart op wit soos my omgewing stagneer.


Ek het nuwe skulpe nodig om die muwwes te vervang. Vreemd: die kaal takke van my boom sprankel blinkskoon in die sonlig na die reens, en ek het nie eers gebid nie.

1 comment: